Ek het reeds in ‘n vorige inskrywing ‘n klompie wenke omtrent hierdie belangrike kwessie gedeel. By ‘n onlangse vergadering van die Alzheimer-ondersteuningsgroep waarvan ek deel is, is die onderwerp weer opgehaal. Dit het my laat besef dat die rustige verloop van ‘n Alzheimerlyer se dag grootliks afhang van die kommunikasie waaraan hy/sy blootgestel word.

‘n Verkeerde benadering kan ‘n dag wat mooi begin het, in ‘n orkaan laat verander. Oneffektiewe kommunikasie ontketen dikwels woede en magteloosheid, konflik en frustrasie.

Sinvolle kommunikasie met ‘n Alzheimerlyer vereis ‘n spesifieke benadering en spesiale tegnieke.

Hierdie mense se brein het tot ‘n groot mate die vaardigheid om woorde as betekenisvolle inligting te hoor en te liaseer, verloor.

Hoe langer en meer ingewikkeld ‘n sin is, hoe moeiliker is dit vir die pasiënt om die betekenis te snap.

Omdat die die “bewegende vingertjies” (dendriete), wat aan die die senuselle (neurone) geheg is, verkort, verstrengel raak en met plaak bedek is, word verbale boodskappe net gedeeltelik van sel tot sel oorgedra. Die betekenis van die boodskap glip dan weg voordat dit verstaan of geberg kan word. Soms, wanneer dendriete van verskillende neurone nog aan mekaar raak, sorg dit vir helder, goue oomblikke van verstaan.  Geniet hierdie oomblikke en gebruik dit om werklik kontak te maak.

Soos die breinweefsel krimp word hierdie chemiese kontak al minder. Ons moet dus seker maak dat ons so effektief moontlik kommunikeer en leer om al drie vorme van kommunikasie optimaal te gebruik: ons woorde (verbaal), ons stemtoon en ons lyftaal/liggaamshouding.

Navorsing deur Albert Mehrabian het getoon dat ons woorde slegs ‘n fraksie van die boodskap behels. Ons stemtoon en lyftaal speel ‘n baie groter rol. Mehrabian dui die belangrikheid van die verskillende maniere waarop ons kommunikeer as volg aan:

  • Verbaal = net 7%
  • Stemtoon 38%
  • Lyftaal en houding 55%

Nie-verbale kommunikasie, soos gepaste lyftaal, is dus baie waardevol. Die regte gesigsuitdrukking, stemtoon en gebare beteken meer as woorde.

Emosionele hindernisse moet voorkom word en ons moet dus leer om kalm, duidelik en rustig te praat. ‘n Emosionele gesprek waar woede, trane en ‘n harde stem gebruik word, ontstel die pasiënt geweldig baie.

Hoe tree ons in gesperk? 

Wanneer ons in gesprek tree met ‘n Alzheimerpasiënt, is ‘n kalm houding, sonder tekens van haas, belangrik. Wanneer woorde vir hulle moeilik word om te verstaan, ontwikkel Alzheimerlyers ‘n fyn aanvoeling vir atmosfeer. Ons kan dus, deur ongeduldig te klink, ‘n blokkasie skep nog voordat ons begin kommunikeer.

Om dan hulle volle aandag te kry, moet ons reg voor die persoon gaan staan, moontlik aan hom raak en sorg dat daar volledige oogkontak is voordat ons begin praat.

Die gesprek moet uit kort, eenvoudige sinne bestaan. Waak egter daarteen om nie te klink asof jy met ‘n kind praat nie.

Om vrae te vra is die moeilikste deel van kommunikasie met ‘n Alzheimerlyer:

Eerstens moet daar genoeg tyd gelaat word na die vraag om die Alzheimerlyer kans te gee om die sin te begryp.

Kort, geslote sinne maak dinge makliker: “Wil jy koffie hê?” is makliker om te antwoord as “Wat wil jy hê om te drink?”

As dit lyk of hy nie verstaan nie kan die sin herhaal word.

Vermy vrae oor korttermyn gebeure. Dit is gewoonlik die inligting wat die swakste onthou word. Vrae soos: “Wie het vanoggend vir jou kom kuier?” veroorsaak dadelik spanning, want name is vir die pasiënt “labels” wat lankal verlore geraak het.

Wanneer jy ‘n Alzheimerpasiënt vra om aan ‘n versoek te voldoen, gebruik die woord “ons” om hom veilig te laat voel: “Kom ons gaan borsel tande”, eerder as “Sal jy badkamer toe kom om tande te borsel?”. Belangriker nog is om nie bevele te geen nie: “Gaan borsel jou tande” klink soos ‘n opdrag en lei tot weerstand.  “Kom ons” is towerwoorde! (wat soms werk).

Hoe hanteer ek sy herhalende vrae? 

Om dieselfde vraag tien keer agtermekaar te antwoord kan regtig beproewend wees. Na die tweede, selfde antwoord is dit tyd om te begin borduur.

Ek het geleer dat herhaling dikwels beteken dat daar ‘n vraag agter die vraag is. Wanneer my man, met ‘n bekommerde trek op sy gesig, ‘n vraag herhaal het, het ek geweet hy het nie sy eintlike vraag behoorlik verwoord nie. Hy het meer inligting nodig.

Hier is ‘n voorbeeld:

Sy vraag: “Wie se motor is dit?” Om aanmekaar te sê dat dit jou broer se motor is wat daar staan, gaan nie help nie. Die pasiënt voel waarskynlik bekommerd en angstig en het gerusstelling nodig. Hy wil miskien eerder weet hoekom die motor daar staan. Om te begin verduidelik kan dalk help: “Jou broer het gevra dat ons ‘n bietjie na sy motor kyk terwyl hy by die bure kuier. Hy sal dit oor ‘n rukkie kom haal.”

As hierdie tegniek nie help nie, werk dit gewoonlik om die pasiënt se aandag af te trek met iets wat positief is. Dit het altyd gewerk as ek vir my Alzheimerman gesê het hy moet eers kom tee drink, want ons het lekker koekies by die tee.

Nuttige wenke 

Rustige stiltes is net so belangrik soos geselsies. Sodra die pasiënt se brein oorgestimuleer word van te veel gesprekke rondom hom, moet hy afgesonder word in ‘n kalm, stil omgewing, met iemand by hom in wie hy vertroue het.

Moenie met die pasiënt argumenteer nie. As hy nie dadelik oorreed kan word om iets te doen nie, stel die gebeure uit na ‘n vriendeliker tyd.

Moet hom nie reghelp nie. Die stelling wat hy maak is vir hom reg, so speel liewer saam.

Moet hom nie blameer nie. Dit wat hy gedoen of verkondig het is vir hom reg. Fokus eerder daarop om effektiewe skadebeheer toe te pas as die situasie dit vereis.  Nadat my man ‘n pragtige bos varings uitgespit het omdat dit vir hom soos onkruid gelyk het, moes ek maar die kaal kol toe plant met iets anders totdat die varings weer uitgespruit het.

Moet hom nooit konfronteer nie, want hy sal nie die rede verstaan nie.

Moet hom nie herinner dat hy vergeet het nie. Hy mag vergeet, want hy moet die simptome van die vergeetsiekte waaraan hy ly, uitleef.

Moenie aggressie, verbale mishandeling en ongegronde beskuldigings persoonlik opneem nie. Dit is alles deel van die verloop van die siekte. Fokus daarop om die harde woorde van jou te laat afrol en wees goed vir jouself.

As hy later nie meer kan praat nie, hou aan om rustig met hom te gesels. Verduidelik voortdurend wat jy doen as daar met hom gewerk word. As jy byvoorbeeld sy hare was, hou aan om hom te verseker dat daar nie water in sy ore of oë sal beland nie.

Onthou, jy kan nie geheueverlies beheer nie. Jy kan egter, deur slim te kommunikeer, die lewe vir jouself ‘n bietjie makliker maak. En jy kan altyd jou reaksie op die situasie kies. Baie sterkte!

Dankie Hettie, vir jou bydrae tot hierdie belangrike onderwerp.
Hettie Theron
Bestuurder: ASA, Suid-Kaap