Syfers, finansies, bankstate en inkomstebelastingvorms was, dankie tog!, nooit my bekommernis nie. My man met sy syferbrein het hierdie deel van ons lewe glad laat verloop. Ook maar goed so, want somme en syfers was nooit my sterk punt nie.

En toe kom Alzheimersiekte die bordjies verhang. Nadat ons een aand skielik in ’n donker huis moes rondval om kerse aan te steek, moes ek elke maand help onthou en seker maak dat al ons maandelikse betalings betyds gedoen word.

Ons rolle het stadigaan verander en na ’n paar skades en skandes het ek maar die leisels behoorlik vasgevat. Waar ek nie kon nie, was my kinders se helpende hande daar.

Inkopietogte het moeiliker geword. My man wou steeds sy beursie, nerfaf geleef, saamneem wanneer ons die winkels trotseer het. Ek het stilletjies seker gemaak dat daar net ‘n paar note en kleingeld in sy beursie was, want hy het sommer terwyl hy so tussen die rakke loop solank geld uitgehaal, en dit dat dan net daar neergesit, tussen die botteltjies en blikkies op die winkelrak. Sodra iets sy aandag afgetrek het, was dit waarmee hy besig was vergete.

Die enkele kere wanneer hy nog self sy goedjies wou koop en betaal, het gewoonlik geëindig met kleingeld wat oor die vloer rol en note wat halflyf by sy sak uithang. Die kosbare geldjies wat hy met elke koopsessie verloor het, het ek maar misgekyk. Ek het geweet dat selfs hierdie klein bietjie normaliteit van baie jare ook binnekort vir hom sou wegkwyn.

Ja, die hantering van geld en finansies is een van die eerste dinge wat in die huishouding waar Alzheimer die baas is, verander. Geleidelik verloor die Alzheimerlyer die vermoë, en later belangstelling, in hierdie aardse noodsaaklikheid. Totdat die dag aanbreek dat sy bankrekening gesluit word.

Dit was vir my so swaar om die nou nuttelose tjekboek uit sy mooi leeromslag te haal en in die kaggelvuur te laat gloei tot rooi omkrul- tongetjies. Die leeromslag met sy naam daarop uitgedruk, vir hom ’n kosbare geskenk van sy swaer, het ek as ’n aandenking van beter dae gebêre.

En toe kom raad van ’n goeie vriend net betyds. Hy sou binnekort nie meer in staat wees om sy handtekening te maak nie en ons moes dadelik ‘n dokument deur ‘n prokureur laat opstel wat vir my magtiging sou gee ten opsigte van sy banksake, sowel as tekenregte waar dit ookal van toepassing sou wees. Nadat ek en vier getuies geteken het, was dit sy beurt. Die lomp geskrabbel, na baie oefening, was net ’n vae weergawe van die netjiese handtekening wat hy soveel honderde kere deur sy lewe gemaak het.

So het sy handtekening en syfervaardighede saam verdwyn. Deur al die baie jare van betrokkenheid by ’n ouditeursfirma het hy soveel syfers deur sy brein laat gaan. En nou het Alzheimersiekte die uitgetrapte paadjies toegevee.

Syfers het nie meer vir hom sin gemaak nie. Maar vir ons, sy geliefdes, was hy ten spyte van die dowwe paadjies en gebreekte skakels in sy brein, nog hy.

Die aflegging van aardse vaardighede kan hartseer en ontstellend wees vir pasiënte en geliefdes. Maar die siekte vra dat ons, met moed en kalmte, elke verandering sal bestuur. Een dag en een tree op ‘n slag.