Dit is ’n groot taak om ’n Alzheimerpasiënt te versorg en veilig te hou.

Ons as versorgers en geliefdes is dikwels so besig om die siekte te bestuur en al die probleme wat daarmee saamgaan te hanteer, dat ons nie altyd besef dat ons nie by die menswees van die Alzheimerlyer uitkom nie.

Ons grootste fokus is om tog net die pasiënt sover te kry om saam te werk, sodat die dag se roetine en fisiese versorging suksesvol afgehandel kan word. Hierdie daaglikse stryd word maklik die dryfkrag agter ons gedrag en die oorheersende aspek van ons daaglikse versorging. Van óns kant af lyk hierdie optrede nie noodwendig verkeerd nie.

Vanaf die pasiënt se kant af lyk dit egter anders. Sy kant is dat mense hom wil uittrek of aantrek of onder ’n stort wil laat staan. Hulle wil keer as hy die vrugte wat hy in die vrugtemandjie kry wil eet. Die mense vat sy goed af wat hy in sy kas wil gaan bêre en sit ’n pil in sy mond wat hy nie wil drink nie.

Hy verstaan nie en voel oorweldig, onseker en magteloos. So staan die Alzheimerlyer alleen teen die aanslae van ’n wêreld vol geluide en mense en gebeure wat net nooit ophou nie.

Die emosie wat in hierdie magteloosheid opwel is woede – en dit projekteer na buite as aggressie. Ná ’n aggressiewe uitbarsting bly net eensaamheid en verlatenheid oor, en dit word na binne geprojekteer as depressie.

Alzheimerlyers is nie meer dieselfde mense as wat hulle was nie. Ons moet hierdie nuwe mens leer ken. Elke pasiënt is anders; soos die siekte vorder ontwikkel elkeen hulle eie voorkeure, vrese en gewoontes. Dit is ons taak om fyn te luister, en veral fyn te luister na vrae wat stotterend en onsamehangend uitkom.

Vir hierdie mens is hulle vraag dalk verskriklik belangrik – belangriker as wat ons mag besef. Iets wat uit ons perspektief eenvoudig en doodgewoon lyk, kan dalk vir die pasiënt kommerwekkend en vreesaanjaend voorkom. ‘n Onskuldige braaivleisvuurtjie het byvoorbeeld eend aand vir my man soos ‘n ontembare veldbrand gelyk.

Ek glo dat dit elke Alzheimerpasiënt se reg is om met deernis en geduld behandel te word, en veral gehoor te word. Ek het, deur fyn te luister en te probeer verstaan, soveel geleer en ontdek. ‘n Gerusstellende antwoord is dikwels al wat nodig is en kan so ‘n groot verskil maak.

Ons moet dus die geheim van geduld probeer verstaan. Hierdie menslike eienskap is die een ding waarmee die meeste versorgers en geliefdes sukkel.

Alzheimersiekte se belangrikste kenmerk is die geduld-beproewende simptoom van herhalende vrae, selfs na ‘n duidelike antwoord.  Dit is net menslik om opstandig te voel as ’n vraag vir die sewende keer gevra word. Dit voel asof ’n hamertjie sewe keer agtermekaar op dieselfde sagte weefsel van die brein slaan. Na die sewende selfde antwoord voel dit meer soos sewentig maal sewe keer se antwoord!

Om met Alzheimersiekte te werk is om hierdie hoofsimptoom reg te bestuur. Dit is gegewe, soos al die ander simptome. Die versorging en bestuur van dié lastige simptoom is net so belangrik soos die fisiese versorging van die pasiënt.

My raad aan Alzheimerversorgers is om doelbewus vrede te maak met die simptoom en jou nuwe gedrag te sien as ‘n “kommunikasietegniek” wat werk vir Alzheimerpasiënte:

Wanneer dieselfde vraag oor en oor gevra word, is dit nodig om jou volle aandag aan die pasiënt te gee. Stop vir ‘n oomblik waarmee jy besig is, gaan staan voor die pasiënt, maak oogkontak en begin op ’n kalm, simpatieke manier meer breedvoerig oor die vraag gesels. Die pasiënt kon dalk net een sin uitkry, maar voel onseker en het perspektief en inligting nodig om hom gerus te laat voel. As bogenoemde tegniek nie help nie, is tweede beste om net sy aandag van die herhalende vraag af te lei, met iets waarvan hy hou.

Geduld moet dus ons geheime wapen wees in hierdie stryd.

Om aan te haal uit my boek: “Ons is nie net hier vir onsself nie en geduld is die enigste eienskap wat ons bemagtig om ook vir ander daar te wees.”

“We are here to serve, therefore we must be patient,
Especially to the very old and the very young
And to those whose minds had left to wander.”

Laat ons deur die sluier van Alzheimersiekte kyk en die mens raaksien wat hierdie siekte se simptome noodgedwonge moet uitleef. Kom ons kyk verby die simptome en sien die mens wat moedig in die stroom van die lewe aansukkel met die onmag van gebreekte skakels in sy brein.

Elke mens smag na ’n wêreld vol liefde, rustigheid, geduld en vriendelikheid. Ons kan daarna gaan soek, maar die Alzheimerlyer kan net hulpeloos daarop wag en hoop.