My Storie

Elise Nel

My Storie

My storie het in die Karoo op ’n plaas langs die Oranjerivier begin. Met liefdevolle ouers en ’n uitgebreide familie op die buurplase, was my kinderlewe sorgeloos en geborge.

Na matriek het ek verpleging as beroep gekies. Vier jaar later was die streng en deeglike opleiding voltooi en kon ek met my wit gestyfde uniform en maroen epoulette trots as ’n geregistreerde verpleegkundige deel word van die wêreld van die geneeskunde.

Ek is later met my jeugliefde getroud en het my uniform vir die vele rolle van ’n plattelandse boervrou verruil. Kinders grootmaak, kerkbasaars, gemeenskapswerk en gesellige kuiers het ons lewens gevul en aan oudword het ons nooit gedink nie.

Iets waarvoor ek ook deur al die jare tyd gemaak het, was my skilderkwas en skryfpen. Om groot afstande af te lê om kursusse by te woon en hierdie liefde van my uit te leef, was soms ’n uitdaging, maar nooit ’n struikelblok nie.

En toe, soos vir almal, het die tyd vir aftree ook vir ons gekom. Ons het besluit om die Karoo se lief en leed van baie jare te verruil vir ’n nuwe tuiste in die groen streek van die Suid-Kaap met sy uitgestrekte strande.

Maar in plaas daarvan dat ons die rustige aftreejare, waarna ons so uitgesien het, saam kon geniet, het Alzheimersiekte ongemerk ons lewens binnegesluip en alles verander. Hierdie vreemde raaiselsiekte het stadig en ongemerk deel van ons bestaan geword. Ek het heeltemal onvoorbereid, oningelig en aanvanklik sonder dat ek dit besef het, die rol van die versorger ingeneem, terwyl my liewe lewensmaat die pasiënt geword het.

Omdat ek die roete van tuisverpleging gekies het, tot op die end, was Alzheimersiekte ons intieme metgesel vir baie jare. Inligting was min en die vreemde pad vol slaggate.  Ek moes tree vir tree stap, planne maak, kop bo water hou en elke dag aanpak, met of sonder krag.

Op my Alzheimerpad het ek die volgende woorde wat ek iewers raakgelees het as die waarheid leer ken:

 “You never know how strong you are until being strong
   Is the only choice you have.”

Nadat baie mense my gevra het om dit wat ek geleer en ondervind het te deel, het hierdie webjoernaal, sowel as my boek wat nou beskikbaar is, die lig gesien. Ek het nie al die antwoorde nie, maar dit wat ek het wil ek met nederigheid en liefde aanbied aan almal wat die moeilike pad moet stap.

Ontvang my Nuusbrief