Keuse van Versorgingsoord

Keuse van Versorgingsoord

Wanneer Alzheimersiekte deel geword het van ‘n gesin, kom hulle te staan voor die belangrike keuse wat mettertyd gemaak moet word: verorgingsoord of tuisversorging.

Die besluit hang van baie faktore af:

Wanneer die versorger die vrou is, kan sy dalk langer byhou om haar Alzheimerman tuis te versorg. Vir sommige mans, wat nie voorheen die primêre versorger in die huishouding was nie, kan die eise dalk gouer te veel word.

Wanneer die huisgesin omring word deur ‘n sterk ondersteuningsnetwerk sal die Alzheimerpasiënt langer tuis versorg kan word.

Gewoonlik kan die pasiënt gerieflik tuis versorg word gedurende die eerste fase van die siekte. Gedurende hierdie fase kan die pasiënt nog geredelik na sy/haar eie versorging omsien, self eet en sonder hulp rondbeweeg. Met die nodige ondersteuning kan die pasiënt op hierdie stadium nog in ‘n mate in die hoofstroom funksioneer.

‘n Vriend van my het dit so verwoord: “Ek moes die keuse maak toe dit nie meer vir my moontlik was om my vrou fisies en emosioneel te versorg nie.”

Hy het vir sewe jaar na sy vrou omgesien. Eerstens moes hy sy besigheid verkoop om voltyds tuis te wees. Hy moes stelselmatig die huishouding en al haar pligte oorneem. Daar moes daagliks aanpassings gemaak word om by te bly met die voortdurende verandering in haar toestand.

Dinge het stadigaan al moeiliker geword om te hanteer. Hy kon haar nie meer vir kort rukkies alleen tuis laat om gou winkel toe te gaan nie. Hy moes haar die hele tyd dophou om seker te maak dat sy nie buitentoe sou gaan en verdwaal nie.

Hy het gaan navraag doen by kundiges om te bepaal wanneer die tyd vir verskuiwing reg sou wees. Al antwoord wat hy gekry het was: “Jy sal weet wanneer die tyd aangebreek het.”

Hy het geweet die tyd het aangebreek toe sy vrou die vermoë om haarself in die badkamer en toilet te behelp, verloor het.

Die volgende stap was om navorsing te doen en ingeligte besluite te neem oor die verskuiwingsproses na ‘n versorgingsoord.

Die belangrikste punte van oorweging was vir hom die volgende: 

  • Die ligging: om ‘n oord ver van sy huis te kies sou gereelde kuiers moeilik maak.
  • Die kostes verbonde moes haalbaar wees oor ‘n lang tydperk.
  • Die volhoubaarheid van versorging tot met die dood moes gewaarborg wees.

Die volgende stap was om ‘n oord te identifiseer wat aan al die nodige vereistes voldoen, soos die volgende: 

  • Die vriendelikheid en netheid van die personeel.
  • Die algemene netheid van die gebou, vloere en matte.
  • Die afwesigheid van onaangename reuke.
  • Die netheid van die eetsaal en die standaard van die kos.
  • Die prosedure en hantering van die wasgoed.
  • Die slaapkamers se grootte, ventilasie en algemene voorkoms.
  • Netheid van stort- en badgeriewe.
  • Veiligheid en aantreklikheid van die omgewing buite die gebou. 

Daar moes ook seker gemaak word dat die instansie aan die volgende wetlike vereistes voldoen: 

  • Registrasie by die Department van Gesondheid.  Die instansie moet aan die standaarde voldoen om na pasiënte met geestelik-verwante siektes om te sien. Die keuring word gedoen deur die “Mental Health Advisory Committee.”
  • Registrasie by Departement van Sosiale Ontwikkeling.
  • Die nodige vereistes van die Munisipaliteit moet nagekom word, byvoorbeeld hersonering deur die Munisipaliteit.
  • Die instansie moet ook voldoen aan die vereseitses wat die Wet op ouer mense verlang, soos in Akte no. 13 wat in 2006 deur die President bekragtig is.

Wat die verpleegsorg betref: 

  • Die ratio bedags: 1 verpleegster tot 3 pasiente.
  • Die ration snags: 1 verpleegsgter tot 5 pasiente.
  • ‘n Gekwalifiseerde verpleegsuster daagliks aan diens.
  • Die res van personeel: opgeleide verpleegsters met die nodige kwalifikasies.

Nadat hy al hierdie navorsing gedoen het, het hy met ander families, wat vir hul geliefdes by die betrokke oord kom kuier het, gesels om hulle menings en indrukke te kry.

Nadat die finale keuse van ‘n versorgingsoord gemaak is, was die verskuiwing skielik ‘n werklikheid. Hierdie groot besluit is nou met sy kinders en familie bespreek. Hy het ook met professionele mense gepraat, sowel as met goeie vriende en ander in dieselfde posisie by die Alzheimerondersteuningsgroep.

Al hierdie gesprekke was nodig, want hy moes dit ‘n weldeurdagte besluit maak. In sy woorde: “Hierdie was die belangrikste besluit wat ek ooit moes maak.”

Voorbereiding van die pasient 

Die volgende stap was om alles moontlik in plek te kry, sodat sy vrou haar nuwe lewe voorbereid kon begin.

Sy het nog kontaklense gedra wat al ‘n geruime tyd probleme veroorsaak het. Soms het sy dit verkeerdom ingesit, of vergeet om dit uit te haal voor slaaptyd. Ander kere moes hulle rondkruip op soek na ‘n lens wat geval het. ‘n Omvattende oogondersoek het gelei tot ‘n lensvervangingsoperasie.

‘n Tandarts besoek, wat ook ‘n X-staal ondersoek ingesluit het, het verseker dat haar gebit gesond en versorg was, voordat hierdie soort ondersoeke onmoontlik sou word.

Die volgende groot taak was om al haar klere deur te kyk en te besluit wat ingepak moes word. Vir die Alzheimerlyer is dit belangrik om klere te gebruik wat sonder knope en gespes is. Ritse en gordels moet sover moontlik vermy word en insteekskoene sonder veters is die beste keuse.

Daar moes ook aan die emosionele sy van hierdie delikate saak gedink word. Haar bekende duvet en beddegoed moes ingepak word om verwarring te vermy.

Haar kinders en kleinkinders se foto’s en bekendes items wat op haar spieëltafel was, moes beslis saamgaan om die vreemde kamer haar eie te maak. 

Die verskuiwing 

Die versorgingsoord wat hy gekies het, het ‘n spesifieke proses gevolg: eerstens is daar dagbesoeke gereël om die pasiënt gewoond te maak aan die nuwe omgewing.

Nadat die pasiënt toegelaat is, het ‘n twee-weke tydperk gevolg waartydens die pasiënt geen besoeke kon ontvang nie. Hierdie man het besef dat hy moet saamwerk en die reëls volg, vir hom en sy vrou se beswil. 

En toe het die groot dag aangebreek.

Oorweldig deur hartseer het hy met rukkende skouers die klaar gepakte tas toegerits. Agt en veertig jaar het met een tas geëindig …

My vriend vertel dat sy Alzheimergeliefde, wat ongemerk die kamer binnegekom het, gevra het hoekom hy so lag! Sy het sowaar die intensie emosie as ‘n lagbui gesien. Sy lewensmaat was nie meer daar om hom te troos nie.

“One of the hardest things you’ll ever have to do, is to grieve the loss of a person who is still alive.”

Die pad van die geliefdes na die verskuiwing van die pasiënt: 

Professionele hulp, in die vorm van berading, is nodig.

Gereelde gesprekke met vriende wat vertrou word, kan baie help. Hierdie ondersteuning dra by om deur die magdom emosies te werk wat met hierdie stap gepaard gaan.

Die hantering van skuldgevoelens moet reg aangespreek en verwerk word. Hierdie emosie sal altyd opduik, watter keuse ookal gemaak word en hoeveel omgee en opregtheid daar ookal met bestluitneming gepaard gaan. Wanneer hierdie emosie toegelaat word om normale perspektief skeef te trek, is hulp en bystand baie nodig.

Besoeke kan ontstellend wees, veral die eerste paar keer.

Die feit dat die pasiënt stelselmatig in ‘n volgende fase gaan beland, met ander simptome en gedrag, moet verwag word. Elke besoek moet dus voorbereid aangepak word.

Die geliefdes moet vir hulle ‘n nuwe lewe probeer skep wat sinvol met hierdie groot gemis gelewe kan word.

Die eerste ruk kan baie eensaam wees vir die persoon wat moet voortgaan in die leë huis na baie jare saam met n lewensmaat. Elke besoek bly ‘n uitdaging en elke keer as daar nog tekens bykom wat die verdwyning van die maat van die verlede bevestig, breek daar nog ‘n stuk seer los.

Alzheimeriekte is ‘n genadelose siekte wat steeds ‘n metgesel bly, al is die geliefdes wat geraak word geskei deur die lewe.

Vir elkeen van ons wat voor so ‘n groot uitdaging op ons lewenspad te staan kom, is keuses en besluite die bepalende faktore van die rigting wat ons uiteindelik sal inslaan.

Uit hierdie gevallestudie kan ons leer dat goeie beplanninge en voorbereiding noodsaaklik vir ‘n suksesvolle verskuiwing.

Mag elkeen op die Alzheimerpad die nodige krag ontvang om ook so moedig oor hierdie brug te stap wanneer die tyd aanbreek.