Geldsake

Geldsake

Syfers, finansies, bankstate en inkomstebelastingvorms was, dankie tog!, nooit my bekommernis nie. My man met sy syferbrein het hierdie deel van ons lewe glad laat verloop. Ook maar goed so, want somme en syfers was nooit my sterk punt nie.

En toe kom Alzheimersiekte die bordjies verhang. Nadat ons een aand skielik in ’n donker huis moes rondval om kerse aan te steek, moes ek elke maand help onthou en seker maak dat al ons maandelikse betalings betyds gedoen word.

Ons rolle het stadigaan verander en na ’n paar skades en skandes het ek maar die leisels behoorlik vasgevat. Waar ek nie kon nie, was my kinders se helpende hande daar.

Inkopietogte het moeiliker geword. My man wou steeds sy beursie, nerfaf geleef, saamneem wanneer ons die winkels trotseer het. Ek het stilletjies seker gemaak dat daar net ‘n paar note en kleingeld in sy beursie was, want hy het sommer terwyl hy so tussen die rakke loop solank geld uitgehaal, en dit dat dan net daar neergesit, tussen die botteltjies en blikkies op die winkelrak. Sodra iets sy aandag afgetrek het, was dit waarmee hy besig was vergete.

Die enkele kere wanneer hy nog self sy goedjies wou koop en betaal, het gewoonlik geëindig met kleingeld wat oor die vloer rol en note wat halflyf by sy sak uithang. Die kosbare geldjies wat hy met elke koopsessie verloor het, het ek maar misgekyk. Ek het geweet dat selfs hierdie klein bietjie normaliteit van baie jare ook binnekort vir hom sou wegkwyn.

Ja, die hantering van geld en finansies is een van die eerste dinge wat in die huishouding waar Alzheimer die baas is, verander. Geleidelik verloor die Alzheimerlyer die vermoë, en later belangstelling, in hierdie aardse noodsaaklikheid. Totdat die dag aanbreek dat sy bankrekening gesluit word.

Dit was vir my so swaar om die nou nuttelose tjekboek uit sy mooi leeromslag te haal en in die kaggelvuur te laat gloei tot rooi omkrul- tongetjies. Die leeromslag met sy naam daarop uitgedruk, vir hom ’n kosbare geskenk van sy swaer, het ek as ’n aandenking van beter dae gebêre.

En toe kom raad van ’n goeie vriend net betyds. Hy sou binnekort nie meer in staat wees om sy handtekening te maak nie en ons moes dadelik ‘n dokument deur ‘n prokureur laat opstel wat vir my magtiging sou gee ten opsigte van sy banksake, sowel as tekenregte waar dit ookal van toepassing sou wees. Nadat ek en vier getuies geteken het, was dit sy beurt. Die lomp geskrabbel, na baie oefening, was net ’n vae weergawe van die netjiese handtekening wat hy soveel honderde kere deur sy lewe gemaak het.

So het sy handtekening en syfervaardighede saam verdwyn. Deur al die baie jare van betrokkenheid by ’n ouditeursfirma het hy soveel syfers deur sy brein laat gaan. En nou het Alzheimersiekte die uitgetrapte paadjies toegevee.

Syfers het nie meer vir hom sin gemaak nie. Maar vir ons, sy geliefdes, was hy ten spyte van die dowwe paadjies en gebreekte skakels in sy brein, nog hy.

Die aflegging van aardse vaardighede kan hartseer en ontstellend wees vir pasiënte en geliefdes. Maar die siekte vra dat ons, met moed en kalmte, elke verandering sal bestuur. Een dag en een tree op ‘n slag.

Motorsleutels

Motorsleutels

Alzheimersiekte sluip stadig en ongemerk die lewens en huishoudings van gesinne binne. Dit bring raaisels, veranderinge en onsekerheid. Die tekens is daar, en dan weer nie …

My man se bestuursvaardighede en -vermoë het so geleidelik agteruitgegaan dat ek vir baie lank nie kon besluit of dit my verbeelding, of die werklikheid was nie. Ons was so gewoond aan ons roetine: hy agter die stuurwiel en ek in die passasiersitplek. As ek beswaar gemaak het wanneer hy sommer voor ander ingeswaai het, sou hy ewe verdedigend verklaar dat hy kon sien dat die ander bestuurder vir hom ’n kans wou gee. Dan het ek maar stilgebly – tot die volgende keer.

Maar die nag toe ons vir ure in ‘n vreemde woonbuurt om en om gery het, het ek besef iets is baie verkeerd. Dit was ’n bekende pad vanaf ons buurdorp waar ons die aand ons jaarlikse reünie met sy drie universiteitsvriende en hulle gades geniet het. My man het geweier om enige raad van my te aanvaar en aangehou om by die regte afrit verby te ry. Wat ’n anti-klimaks na so ’n genoeglike aand met kosbare vriende van baie jare!

Ek was bekommerd. Maar dit was nog lank voor hy gediagnoseer is en ek het geen bewyse gehad dat iets verkeerd is nie.

Daarna het ek al meer gespanne geraak om ’n passasier in sy motor te wees. Ons het keer op keer in situasies beland wat my senuwees getoets het. Ek het geweet iets was verkeerd, maar kon nie besluit hoe ernstig dit was nie. Dit was eers toe ’n vriend van ons wat toevallig een middag agter ons in die verkeer beland het, my agterna gevra het hoekom my man so vreemd bestuur, dat ek besef het: dit is nie my verbeelding nie!

Ek het soos vele voor my nie geweet hoe om hierdie probleem op te los nie. Hoe sê mens nou vir jou man, wat ’n leeftyd lank sy voertuie bestuur het, dat hy nou onbevoeg was vir die taak? Ek het nog vir lank ’n denkbeeldige briekpedaal vasgeskop, op my tande gebyt en soms hardop uitgeroep: “Pasop!”. En toe gebeur dit een oggend: ’n botsing, omdat hy nie aandag gegee het aan die aankomende verkeer nie. Ek het hom probeer oortuig om nie verder te bestuur nie, maar hy wou nie ingee nie.

’n Volgende insident beskryf ek breedvoerig in my boek: ’n byna noodlottige ongeluk met ’n groot melktenk-voertuig. Ek het daardie oggend besluit, tot hiertoe en nie verder nie! Toe ek baie ferm vir hom sê dat dit die laaste keer was dat ek ’n passasier in sy motor was, het dit amper gelyk asof ek verligting op sy gesig kon sien. Hy het ewe gedweë, sonder woorde, die motorsleutel aan my oorhandig.

Later, nadat ons tuisgekom en van ons skok herstel het, het ons die saak kalm bespreek. Ter versagting van die netelige saak het ek verduidelik dat al sy vriende op daardie stadium toegelaat het dat hul vrouens bestuur. Dit sou goed wees as ek ook die geleentheid kon kry om my selfvertroue agter die stuur te behou en hy kon, na al die jare, rustig vanuit die passasiersitplek die mooi omgewing waardeer.

Hy het nooit weer oor die saak gepraat nie en nooit weer agter die stuurwiel ingeklim nie. Ek dink hy het besef dat dit nie meer binne sy vermoë was nie. Sy dae van bestuur was verby.

My raad na my ondervinding is om veral met hierdie verandering ferm op te tree en hulp te kry as dit nodig is, sodat die toepaslike oorreding kan geskied voordat dit te laat is.

Dit kan dalk makliker wees as ’n familielid of ’n goeie vriend met die pasiënt oor hierdie netelige kwessie praat, en nie die lewensmaat nie. Selfs die geneesheer se hulp kan ingeroep word. ’n Verduideliking van sy dokter, dat toetse wys dat sy oogspan nie meer so wyd is soos vantevore nie en dat sy reaksies nie meer so flink is soos in die verlede nie, kan dalk help met die oorredingsaksie.

Alzheimersiekte vra dat ons ons leefwyse verander. Daar is soveel aspekte van ons lewens wat oor die jare gewoonte raak. Rolverdelings, roetines en alledaagse aktiwiteite speel uit sonder dat ons daaroor hoef te dink. Totdat dit nie meer werk nie …

Een van my grootste lesse was om nie belangrike besluite te lank uit te stel nie. Dinge soos hierdie, wat lewensgevaarlik kan raak, en ander belangrike sake soos finansies (wat ek in my volgende joernaalinskrywing bespreek) moet vroeër eerder as later aandag geniet.