Tyd vir ‘n diagnose?

Tyd vir ‘n diagnose?

Om Alzheimersiekte te herken wanneer dit kom wegkruipertjie speel in ’n gesin se lewe, is baie moeilik. Die een oomblik is daar tekens, en die volgende oomblik is alles wat aweregs geklink of gelyk het, weer heeltemal normaal.

Maar die persoon wat eerste bewus word van die onwelkome gas is die pasiënt self. Omdat almal deesdae so bewus is van Alzheimertekens, wonder mense dikwels by die eerste vergeet of hulle nie dalk ’n slagoffer is nie. Die res van die gesin neem nie altyd iemand ernstig op wat ligtelik opmerkings maak, maar eintlik werklik bekommerd is oor hul korttermyngeheue nie. Dit is nie reg om dit maar net weg te praat nie. Bespreek dit en motiveer die persoon om te gaan vir evaluering.

 In sommige gevalle loop mense lank met die kommer dat daar iets met hul brein skort, maar hulle sien nie kans om met enigiemand daaroor te praat nie. Vir die familie wat kan sien iets skort, is dit dan baie moeilik om met hul geliefde daaroor te praat, of voor te stel dat ’n doktersondersoek nodig is.

Een van die maniere om hierdie situasie te hanteer, is om voor te stel dat julle albei ’n slag vir ’n goeie ondersoek na ’n geneesheer moet gaan. Om die dokter voor die tyd in te lig oor die stand van sake kan hom help om die netelige saak korrek te hanteer. En as die bal eers aan die rol is, is dit dikwels vir almal ’n verligting.

Die nodige ondersoek en evaluering is die enigste manier om sekerheid te kry. My ondervinding en mening is dat dit dalk beter is om nie die skrikwoord “Alzheimer” voor die pasiënt te gebruik wanneer die diagnose gemaak word nie. Dit is natuurlik elke persoon se keuse, want omstandighede en persoonlikhede verskil.

In my man se geval het ek die voorbeeld van die neuroloog gevolg, wat met geduld en deernis aan hom verduidelik het dat daar ’n afname in sy korttermyngeheue is en dat medikasie gaan help om dit te stabiliseer. Vir ons was dit genoeg. Alzheimersiekte kan nie genees word nie, maar dit kan wel lank gestabiliseer word met die gebruik van die nodige medikasie. My man was heeltemal gemaklik met hierdie diagnose. Hy het self vir al ons vriende vertel dat hy nou gediagnoseer is met korttermyngeheue-probleme en dat hy die nodige medikasie en hulp gaan kry om dit te stabiliseer.

 Ek het wel geleidelik ons vriendekring ingelig oor die diagnose en moes ook persone in die gemeenskap inlig, omdat my man nie meer sy pligte in sy gemeenskapsrolle kon vervul nie.

Wat ek nie verwag het nie, was dat vele mense hom dadelik anders begin behandel het. Hulle het hom skielik gesien as iemand wat min verstaan. Daar is selfs harder en stadiger met hom gepraat, asof hy met doofheid ook geslaan is!

Selfs wanneer hy moes gaan vir skanderings of bloedtoetse is daar oor sy kop vir my gevra hoe oud hy is, of wat sy ID nommer is. Die diagnose op die voorskrif het net een ding beteken: hy is nou verstandeloos. Ek het dan maar net kalm versoek dat hulle al die besonderhede vir hom moet vra, aangesien hy dit beter weet as ek.

Op daardie stadium was my man nog heeltemal bevoeg om die nodige inligting te verskaf en gesprekke met grasie te hanteer. Ek het vele kere gesien hoe ’n gloed van verleentheid oor hierdie intelligente man se gelaat sprei omdat mense hom anders behandel het as waaraan hy gewoond was.

Vir ons almal het die diagnose verligting gebring.

Eerstens het  die pasient se onsekerheid oor sy toestand en gepaardgaande angstigheid verminder, omdat hy nou toepaslike behandeling en medikasie kon ontvang. 

Tweedens kon familielede nou hulle verwagtinge en gedrag aanpas om die pasiënt beter te ondersteun. Situasies waarin die pasient onvanpas opgetree het, was ook nie meer so ’n groot verleentheid nie, want mense het onmiddellik begrip as hulle weet dat hulle met ’n Alzheimerpasiënt te doen het.

 Ten spyte van die diagnose is ons Alzheimergeliefdes nog steeds dieselfde mense. Met gebreekte skakels in hulle brein, sal hulle die simptome van die siekte uitleef, maar ons is daar om te sorg dat hulle steeds met respek en menswaarigheid behandel word.

Ontkennings en beskuldigings

Ontkennings en beskuldigings

Vandag wil ek graag gesels oor een van die baie onverstaanbare en uitdagende probleme wat skielik deel word van ’n Alzheimer-gesin.

’n Goeie vriendin wat nou hierdie pad stap, het vanoggend deur baie trane vir my van die spanning in hulle huis vertel. Haar man, nou in die eerste fase van Alzheimersiekte, het haar daarvan beskuldig dat sy nie vir hom die belangrike nuus van sy kleinseun se prestasie op die rugbyveld vertel het nie.  

Sy was verbaas, verontwaardig en seergemaak. Natuurlik het sy hom vertel! In kleur en geur! Hoe sou sy nou sulke belangrike nuus van hom weerhou!

Dit het nou ‘n frustrerende patroon geword. Sy word gereeld tot leuenaar gemaak.  Haar man is elke dag vir ure kwaad omdat hy nie ingelig word oor belangrike sake nie en omdat sy hom daarvan beskuldig dat hy nie luister as sy praat nie.  

Sy weet hy luister nie na haar nie. Natuurlik word hy ingelig.

En hy glo vas dat sy hom nie vertel het nie.

Wat sy besig is om te ontdek, is dat hy nie net meer haar man is nie. Hy is nou ook haar Alzheimerman. 

Sy brein het nie die inligting geregistreer toe hy dit gehoor het nie – en hy weet werklik niks daarvan nie. As sy hom dan beskuldig dat hy nie behoorlik luister nie, word hy net nog kwater, want hy glo dan ook dat hy vals beskuldig word.   

Albei partye weet dat hulle “reg” is. En albei voel te na gekom, ontsteld en kwaad.

Ek ken die patroon. My liewe, intelligente man sou nooit vergeet as ek hom van belangrike gebeure sou vertel nie. En toe word hy my Alzheimerman.

Dit het my lank geneem om te leer dat dit belangrik was om die lewe vir myself so maklik as moontlik te maak. Ek moes leer om my behoeftes om verstaan te word, regverdig behandel te word en erkenning te kry vir wat ek gedoen het, opsy te skuif ter wille van ‘n benadering wat werk.   

Om die siekte makliker te hanteer sal my vriendin moet leer om anders op te tree tydens die volgende episode: 

  1. Sy sal haarself sover moet kry om saam te stem, eerder as te baklei. As hy ontsteld is, is dit beter om te sê: “Ai my man, ek is so jammer! Ek het gedink ek het jou vertel!”
  2. Sy sal die nuus dan vriendelik en entoesiasties met hom moet deel, asof dit die eerste keer is dat sy dit vertel.
  3. Trek dan sy aandag af deur dadelik oor ‘n ander positiewe onderwerp te begin gesels.

As die bogenoemde wenke indruis teen jou behoefte aan selfbeskerming en jou sin vir reg en regverdigheid, dan is jy reg.

Maar niks op die Alzheimerpad is regverdig nie. 

Doen wat goed is vir die pasiënt om hom sodoende menswaardig te laat voel, kalmte in jul albei se lewens te verseker en die liewe vrede te bewaar. 

Onthou dat jy nie regtig saamstem of verskoning vra nie. Jy is besig om ‘n episode te hanteer – vaardig en vol selfvertroue. (Dit kom! Met oefening!)  

Leer om te doen wat werk, eerder as wat “reg” is.